VSA-kinkel in Wiese se Steinhof-eis.
Die hooggeregshof in Kaapstad het onlangs die aansoek van die Amerikaanse maatskappy Conservatorium Holding s toegestaan om toe te tree tot die regsgeding van twee maatskappye van Christo Wiese teen Steinhoff.
Thibault Square Financial Services en Titan Premier Investments het die saak in April 2018 teen Steinhoff International Holdings (SIHPL) van Suid-Afrika en Steinhoff International Holdings NV van Nederland aanhangig gemaak.
Hulle eis gesamentlik amper R60 miljard van die twee Steinhoff-maatskappye.
Volgens die jaarverslag wat Steinhoff in Julie uitgereik het, maak Conservatorium, wat in Delaware opgerig is, daarop aanspraak dat hý die regte besit op die eise wat Thibault en Titan teen Steinhoff ingestel het.
Conservatorium voer aan hy het die regte en eise verkry van sewe van die agt banke wat deur verskeie ooreenkomste met Thibault, Titan en Upington Investment Holdings B.V. miljarde euro’s aan hulle geleen het om Steinhoff-aandele te bekom. Die banke is Citibank, Goldman Sachs, HSBC en Nomura, asook JP Morgan Securities, Bank of America, BNP Paribas en UBS.
Volgens Conservatorium het die banke deur verskeie ooreenkomste met Thibault, Titan en Upington sowat €1,6 miljard aan Upington geleen.
Upington het Steinhoff-aandele aan die banke verpand as sekuriteit vir die terugbetaling van die lening.
Conservatorium voer aan Thibault en Titan wil nou wederregtelik sy eis in besit neem.
Regter Robert Henney het in sy uitspraak die agtergrond geskets wat die partye in die verhoor en in hul hofstukke verskaf het.
Volgens hom het die applikant aangevoer die respondente het die €1,6 miljard van die banke gebruik om Steinhoff-aandele te koop en daarmee die sukkelende maatskappy broodnodige likiditeit te gee om sodoende die verkryging van buitelandse ondernemings te fasiliteer.
“Die applikant voer aan dit sou gewetenloos wees as Thibault en Titan ’n eis instel oor aandele wat gekoop is met die lening wat die banke verskaf het as die lening nie terugbetaal word nie.
“Die twee ondernemings sal so ’n onverdiende meevaller kry.”
Die applikant voer aan geen bank sal ’n lening van €1,6 miljard verskaf sonder sekuriteit om die terugbetaling van die bedrag te verseker nie.
Henney het in sy uitspraak die agtergrond van die ingewikkelde saak, wat hy sê met die “seldsame veld van internasionale sekuriteite-reg te make het”, soos volg uiteengesit.
Talle transaksies
Thibault het einde November 2014 meer as 609 miljoen aandele van SIPHL vir R34,7 miljoen bekom.
In Desember 2015 het Thibault dié aandele vir ’n gelyke getal aandele van die Nederlandse Steinhoff Holdings N.V. geruil ingevolge ’n reëlingskema waarmee laasgenoemde maatskappy besig was as deel van ’n herstrukturering van die groep.
Einde September 2016 het die onderneming Upington Investment Holdings B.V. 314 miljoen aandele van Steinhoff N.V. teen €1,58 miljard bekom.
Dié verkryging is deur ’n sindikaat van vier banke (Citibank, Goldman Sachs, HSBC en Nomura) gefinansier met ’n sogenaamde margelening.
Met dié tipe lening word die aandele wat met die finansiering bekom is, as sekuriteit vir die lening gebruik. In geval van ’n wanbetaling is die lener se enigste toevlug die bates wat as sekuriteit vir die terugbetaling van die lening gedien het.
Kort daarna, op 5 Oktober 2016, het Thibault, Upington en ander partye (Wiesfam Trust en Mayfair Speculators) ’n bates-viraandele-ruilooreenkoms aangegaan. Upington het aandele uitgereik vir Steinhoff N.V.-aandele wat aangebied is. Op dié manier het Upington altesame 750,3 miljoen aandele in Steinhoff N.V. bekom.
Conservatorium voer aan dié aandele sluit ook die aanvanklike 609 miljoen aandele in wat in SIPHL bekom is en wat in Desember 2015 vir ’n gelyke getal Steinhoff N.V.-aandele geruil is.
Die margelening is in Junie 2017 herfinansier met nog vier banke wat by die oorspronklike vier banke aangesluit het, naamlik JP Morgan Securities, Bank of America, BNP Paribas en UBS.
As deel van die herfinansiering het Upington agt sekuriteite-ooreenkomste gesluit, een met elk van die banke wat betrokke is.
Twis oor eise en aandele
Thibault, Titan en die twee Steinhoff-maatskappye was respondente in Conservatorium se aansoek. Thibault en Titan het die aansoek teengestaan, terwyl die Steinhoff-maatskappy nié het nie.
Een van die vername kwessies wat die Wiese-maatskappye betwis, is dat die eis wat met die SIPHL-aandele verband hou, te alle tye in Thibault se besit gebly het, nieteenstaande die reëlingskema en die ruil van die Steinhoff N.V.-aandele vir Upingtonaandele.
Conservatorium het in reaksie hierop aangevoer enige eise wat Thibault sou wou instel, is ingevolge die bates-vir-aandele-ruilooreenkoms aan Upington oorgedra.
Conservatorium voer aan dat sowel die 2016-Steinhoff N.V.-aandele as 436 miljoen van die 2015Steinhoff N.V.-aandele as sekuriteit vir dié margelening verskaf is.
Die applikant voer aan op 30 September 2017 het Upington meer as 1 miljard aandele van Steinhoff N.V. gehou waarvan minstens 750 miljoen as sekuriteit aan die leners verpand is.
Thibault en Titan ontken dat die 436 miljoen aandele wat deur Upington verskaf is as kollateraal vir die margelening teruggespoor kan word na die aandele wat Thibault bygedra het.
Die saak is op 24 Junie aangehoor en Henney het verlede Donderdag uitspraak gelewer.
Volgens Henney het die respondente aangevoer die applikant het in gebreke gebly om ’n prima facie-saak uit te maak dat Thibault se eis aan Upington oorgedra is. Hulle het ook aangevoer Conservatorium het nie bevredigende bewyse verskaf van die geldigheid van die oordrag van die banke se regte aan hom nie.
Omdat Conservatorium ook sy eie stappe teen die twee Steinhoff-maatskappye begin het, glo hulle dit maak sy toetrede tot hul saak onvanpas.
Talle prosedurele kopsere wat Conservatorium se toetrede gaan veroorsaak, is ook deur hulle geopper.
Die strydige eis sal ook die moontlikheid van enige skikking tussen hulle en Steinhoff ontspoor, het die respondente aangevoer.
Henney glo nie prosedurele probleme is ’n hindernis vir ’n aansoek van ’n party tot toetrede nie.
Volgens hom moes Conservatorium ’n prima facie-saak uitgemaak het om toe te tree.
“Dit beteken die bewerings waarop hul eis gegrond is, moet gewig dra.”
Henney stem nie saam met Thibault en Titan dat die applikant nié ’n prima facie-saak vir toetrede gemaak het nie.
Volgens hom is daar verskeie redes vir sy siening – eerstens dat dit duidelik is dat die leners €1,6 miljard aan Upington geleen het as ’n margelening ingevolge waarvan hy die aandele wat hy in Steinhoff bekom het, gefinansier het.
Dié feit word nie betwis nie. “Dit is ook duidelik en word nie betwis nie dat kollateraal vir die lening ingesluit het die aandele wat verkry is met die lening, asook aandele wat reeds deur Upington gehou is.
“Tweedens word dit nie betwis nie dat sewe van die agt banke ná die ineenstorting van Steinhoff se aandeelprys nagenoeg €924 miljoen van die geld verloor het wat as ’n margelening aan Upington verskaf is, op grond daarvan dat die aandele wat as kollateraal gehou is, wesenlik waarde verloor het.”
Henney meen watter spesifieke aandele verskaf is as kollateraal en of die eise wat met daardie aandele verband hou, oorgedra is daarmee, is ’n kwessie wat in ’n verhoor bepaal moet word.
“Dit is my siening, gegrond op die onbetwiste en gemene feite, dat die applikant duidelik prima facie getoon het dat hy ’n werklike en wesenlike belang in die saak het.”
Henney stem saam met die applikant dat geen bank of finansiële instelling €1,6 miljard sal uitleen sonder om sekuriteit vir die terugbetaling daarvan te kry nie.
“Die leners sou waarskynlik nie die lening gegee het as dit nie was vir die feit dat hulle daarvan oortuig was dat die aandele wat vir kollateraal verskaf is, doeltreffend vir dié doel aangewend sal kan word nie.”
Die regter meen as die aandele nié as sekuriteit aangebied is nie, sou dit ’n wanvoorstelling aan die leners wees.
’n Kostebevel is ten gunste van Conservatorium toegestaan, insluitende die koste van twee advokate.
www.pressreader.com/...p;hideSimilar=0&type=2&state=2